GESKIEDENIS VAN SIKLUS!
SIKLUS! is 'n unieke konsep uit die Oos-Kaap en het al deure oopgemaak op baie maniere. Lees hier hoe die konsep ontstaan het en die verloop van die groep se bestaan tot en met vandag. Die geskiedenis is nog nooit voorheen aangeteken nie en dit sal met die verloop van tyd aangepas word totdat dit die volledige prentjie weerspieël. Oud Siklus!-lede is welkom om aan ons per e-pos te laat weet watter geskiedenis hulle nog onthou - ons sal dit met graagte hier aanbring.
Hoe het SIKLUS! ontstaan?
VOALIM
In November 2004 het Sarel Botha, 'n persoon wat reeds sedert 6-jarige ouderdom in die musiekbedryf betrokke was, besluit om 'n jarelange ideaal (sedert 1976) om 'n vereniging te stig om die skep van oorspronklike Afrikaanse musiek te bevorder, te laat materialiseer. Gedurende daardie maand is die Vereniging vir die Bevordering van die Skep van Oorspronklike Afrikaanse Ligtemusiek (VOALIM) in Port Elizabeth, Suid-Afrika, gestig en het die eerste Prop-in-en-sing Afrikaanse Talentaande (PIESATA's) plaasgevind. Die talentaande het die aandag getrek van verskeie plaaslike kunstenaars wat op soek was na 'n geleentheid waar hulle gereeld kon optree, ontwikkel en in volwaardige kunstenaars ontpop.
Stef
Kruger
Gedurende dieselfde tyd het Sarel Botha bevriend geraak met een van Suid-Afrika se grootste liedjieskrywers, Stef Kruger, wat verantwoordelik was vir Dozi se grootste treffers soos TUSSEN JOU EN MY, PENNIES OP DIE SPOOR, KRONKELPADBELOFTES, MA SE SONG, DINK AAN MY, GRASSADE IN DIE WIND en nog talle meer. Kort hierna het Sarel 'n reeks konserte vir Stef Kruger in Port Elizabeth gereël waarvan twee in THE BARN in die PE Operahuis plaasgevind het en een deur die ATKV uitgekoop is en verskuif is na die Van Stadens Mond-vakansieoord waar die ATKV 'n naweekkamp vir ATKV-gesinne gehad het. 'n Jaar later nooi Sarel weer vir Stef Kruger vir 'n optrede in Port Elizabeth en ook om 'n liedjieskryfwerkswinkel aan te bied.
Vyfling
Sarel
het gemeen dat dit 'n goeie geleentheid sou wees vir plaaslike talent om saam
met 'n meester soos Stef Kruger op te tree en ook 'n gevoel te kry van die
manier waarop hierdie geniale liedjieskrywer te werk gaan om sy liedjies te
skep. Sarel nooi toe vyf van die plaaslike kunstenaars wat hy leer ken het
sedert die stigting van VOALIM om deel te neem aan 'n voorprogram vir Stef
Kruger se optredes. Die kunstenaars was André Marais (tweede van regs op foto),
Elsabé Rademeyer, Ian Venter (heel regs op foto), Marinus van Rooyen (heel links
op foto) en Robert Gillmer (heel agter op foto). Hulle oefen toe veral die
liedjie Kronkelpadbeloftes saam en op daardie aand voer hulle dit saam met Stef
Kruger op. Daardie aand was daar reeds gepraat oor die moontlikheid dat hierdie
vyf kunstenaars moontlik kon saamspan om 'n sanggroep te vorm. Hulle is daardie
aand aangekondig as die VYFLING.
Die groep was baie goed ontvang en in die proses het almal besef dat daar beslis meriete bestaan vir so 'n groep en dat meer gereeld geoefen en opgetree behoort te word om te sien of dit waarlik bestaansreg in die musiekmark het.
Stigtingsvergadering
'n Formele vergadering was belê op 26 Oktober 2005 aan huis van ELSaBé Rademeyer, te Paradysstrand, waar die groep formeel beslag gekry het. Kort daarna is verskeie name vir die groep oorweeg en uiteindelik is daar besluit op SIKLUS! (met 'n uitroepteken).
Ian Venter verlaat die groep
Die eerste skok wat die groep moes verwerk was toe Ian Venter binne 'n paar maande besluit het dat hy verkies om 'n sololoopbaan na te streef en dat groepwerk nie sy sterk punt is nie. Die groep het besluit om nie weer 'n lid in sy plek in te neem nie en van daar af het die groep uit vier lede bestaan. Ian se sololoopbaan vorder fluks en hy studeer tans in die kunste by Stageworld in Port Elizabeth.
André Marais
André Marais, deesdae bekend as André M, het nog 'n paar maande later besluit om die groep te verlaat aangesien hy toe na Queenstown verhuis het en omdat dit net nie prakties en ekonomies was om gereeld van Queenstown af Port Elizabeth toe te reis vir optredes nie. Die groep was geskok oor André se onverwagse onttrekking, maar het nietemin voortgegaan met oudisies om 'n nuweling te soek. Hierdie keer is daar besluit om 'n meisie in te neem sodat daar twee meisies en twee mans in die groep kon wees. Die uiteindelike suksesvolle kandidaat was Carina Renz, wat toe reeds drie maande lank formeel aan haar solo-loopbaan gewerk het onder Sarel Botha, wat haar ontdek het, se vlerk. André M is 'n suksesvolle liedjieskrywer.
ELSaBé en Robert verlaat SIKLUS!
Kort voor 2 Januarie 2008, kondig ELSaBé Rademeyer (wat op daardie stadium baie blootstelling via die SUPERSTERRE-projek van PATRICIA LEWIS op SABC2 gekry het) en Robert GIllmer aan dat hulle gereed is om sololoopbane aan te pak en dat dit te veeleisend sou wees om dit saam met SIKLUS! te doen.
Nuutste lede
Oudisies is gehou en na 'n redelike lang soektog is daar op 17 Februarie 2008 besluit op Anja Swart en Emile Doubell as nuwe lede van SIKLUS!.
Vrystelling van KOMAAN!
Op 7 Februarie 2009 hou SIKLUS! die CD-vrystelling van hulle derde album, KOMAAN, wat 'n baanbrekersalbum is. Vir die eerste keer word net op groepwerk en nie solos ook nie gekonsentreer en is elf van die twaalf snitte oorspronklike werk wat deur SIKLUS! (en vorige groepe van SIKLUS! saam met Sarel Botha), Stef Kruger, Deon Mattheus en Pauline Matthews geskryf is. Meer as 400 mense daag op om hierdie fees van klank, beligting, dans en sang te beleef. SIKLUS! verkoop 73 CD's by hierdie geleentheid. 'n DVD word van die optrede gemaak.